OOGFEES BY POM-POM WEES!

Geskryf deur Zanel Visser

“I think I found myself a cheerleader” soos Bruno Mars dit sou sing. Hier by ons is een tradisie wat nie sommer ligtelik opgeneem word nie: Ons eksklusiewe Pom-Pom tradisie.


Wat is ‘n opwindende rugbywedstryd op ‘n sonnige Saterdag nou sonder daardie bietjie – hoe sal ons dit nou stel – oogfees voor die spanning begin? Hier begin die groot gees wat almal opsweep om reg te wees om die span aan te juig! Dalk die ware inspirasie agter die manne se ywer op die veld? Wel, ons hoop so, ek meen, ons moet ook mos ons deel doen, of hoe?

Maar wat is eintlik agter die skerms by ons pom-poms aan die gang?


Dalk nuus vir jou, maar dit gebeur nie net nie. Nee, nie sommer soos ‘n towerformule en woeps, daar skitter hulle nie! Lang ure in die hittige son, om maar een te noem. Ja, selfs op Sondae word daar hard gesweet. Gepaste musiek wat die toeskouer lus maak om self te wikkel. Passies wat jou na jou asem laat snak. Benoude oomblikke wat jou op die punt van jou stoel laat skuif. Die entoesiasme van elke dogter skyn in haar glimlag. Die energieke afrigters verdien ook ‘n pluimpie. Mooi so, Juffrou Botha en haar personeel, doen so voort.


Die rokkies is altyd ‘n lus vir die oog. So uniek, so eg, so Jansen-trots! Hare en grimering asof Hannon hulle onder hande gehad het. Professioneel met pom-poms in die hand en dansskoentjies aan die vinnige voete. Moenie vergeet van die goedgeboude manne – wat keer dat ons meisies letterlik oor hulle voete val – wel, nie regtig nie, maar op ‘n manier, verstaan jy …

Wanneer die lywe nie meer ‘willie’, dan verskyn die pom-poms en die gees tel op, die ratte word geolie en die telbord knik sy oog vir die opponent. Wat is sport sonder sy gees?


Vandag weet ons, vandag was ‘n goeie dag om ‘n goeie dag te kon hê.


Ons trots, ons Pom-Pom Trots.



0 comments

Recent Posts

See All