Visie
Ons onderneem om deur middel van ‘n hoogs gekwalifiseerde en gemotiveerde personeelkorps die beste en mees effektiewe opvoeding en opleiding aan al ons leerders te voorsien sodat hulle, hul volle potensiaal op akademiese, kulturele, sport- en leierskapgebied kan bereik.
Ons streef altyd na uitnemendheid. Ons doel is om energieke, gelukkige jongmense, wat produktiewe en funksionele burgers kan wees, aan die samelewing te lewer.
Visie
Ons onderneem om deur middel van ‘n hoogs gekwalifiseerde en gemotiveerde personeelkorps die beste en mees effektiewe opvoeding en opleiding aan al ons leerders te voorsien sodat hulle, hul volle potensiaal op akademiese, kulturele, sport- en leierskapgebied kan bereik.
Ons streef altyd na uitnemendheid. Ons doel is om energieke, gelukkige jongmense, wat produktiewe en funksionele burgers kan wees, aan die samelewing te lewer.



AANLYN BELEID
Algemene Inleiding
By Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen, soos reg oor die wêreld, raak leerders, ouers en personeel betrokke by sosiale netwerke en media. Alhoewel ons by Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen die gerief daarvan as kommunikasiemiddel erken, is dit vir die skool as opvoedingsinstansie, baie belangrik om te alle tye die verantwoordelike gebruik en benutting van sosiale media, tegnologie sowel as die gebruik van alle toestelle met toegang tot die internet, aan te moedig. Sosiale media kan gedefinieer word as enige vorm van aanlynkommunikasie waartydens daar met meer as een entiteit of persoon in gesprek getree kan word of inligting gedeel kan word. Deel van die opvoedingstaak van ons as onderwysinstansie is om ons leerders te lei en te motiveer om in die 21ste eeu vaardig maar verantwoordelik te wees met tegnologie en kommunikasie.
Met hierdie doel voor oë, wil ons graag die onderstaande beleid voorhou om as riglyn te dien wanneer sosiale media deur leerders, personeel of ouers in assosiasie met die skool, gebruik word.
DIE JANSEN SOSIALE MEDIA BELEID
Hierdie beleid het betrekking op alle partye - leerders, personeel en ouers wat huidiglik of in die verlede by die skool as instansie betrokke is of was.
1. Gebruik goeie oordeel:
1.1 Ons verwag te alle tye dat goeie oordeel in alle omstandighede waar sosiale media ter sprake sal kom, gebruik sal word – waardes en riglyne wat vir direkte kommunikasie en navorsing geld, sal ook vir aanlynkommunikasie en navorsing geldig wees.
1.2 Die skool se waardes - respek, ywer, integriteit en lojaliteit behoort elke aanlyn-gesprek te rig, soos wat dit direkte gesprekke ook rig.
1.3 Ongeag van enige maatreëls om persoonlike privaatheid te verseker, behoort elke persoon wat deelneem aan sosiale kommunikasie bewus te wees daarvan dat ander mense ook toegang tot enige gesprek kan kry.
1.4 Goeie oordeel is van kardinale belang indien u enige plasings maak waarby die skool betrek word en u nie deur die skool aangestel of gevra is om die skool amptelik te verteenwoordig nie. Maak seker dat u op die plasing aandui dat dit ʼn persoonlike/private uitspraak is en nie die beleid of opinie van die skool of skool se personeel verteenwoordig nie.
1.5 Die skool as entiteit kan nie betrek word by onoordeelkundige plasings deur leerders en personeellede in hulle privaat hoedanigheid nie, tensy die naam, handelsmerk of etos van die skool aangetas word of die skool in ʼn slegte lig geplaas word.
2. Sosiale media wat deur die skool vir gebruik goedgekeur is in 2018:
Webtuiste
Arendsoog Toep
Youtube
3. Riglyne vir die algemene hantering van sosiale media:
3.1 Respekteer altyd ander se gevoelens, trots, privaatheid en belange en wees bedagsaam.
3.2 Wees verantwoordelik – alles wat op sosiale media geplaas word laat ʼn voetspoor wat nie uitgewis kan word nie, wat kan lei tot latere reperkussies.
3.3 Vertroulike inligting – moenie vertroulike inligting rakende die skool en sy mense op ʼn openbare platform plaas nie. Dit sluit enige telefoonnommers, ID-nommers, adresse en skedules in.
3.4 Respekteer die skool se identitas (brand), naam, wapen en uniform. Indien enige party met die skool verbind kan word, moet plasings waarmee enige negatiewe konnotasie gemaak kan word, vermy word.
3.5 Moet nooit enige plasing maak wanneer jy moeg, moedeloos, kwaad, hartseer of seergemaak voel nie.
3.6 In die geval van ongelukkighede of probleme, probeer altyd eers die beproefde, direkte manier van kommunikasie.
3.7 Wanneer jy van iemand anders verskil, hou alle opmerkings en kritiek opbouend en professioneel.
3.8 Foto’s waarop die skooluniform, -wapen of die skool se naam sigbaar is, moet die skool se etos en waardes weerspieël.
3.9 Moet geen wagwoorde met enige iemand deel nie.
3.10 In die geval van navorsing, maak seker dat die regte persoon krediet kry vir sy/haar werk, opinies en idees.
3.11 Plaas werk van hoë gehalte en goeie taalgebruik.
3.12 Indien enige leerder ʼn boodskap, foto, opmerking of enige iets anders aanlyn teëkom wat hom/haar ongemaklik laat voel, moet hy/sy dit onmiddellik aanmeld by ʼn gesagspersoon.
3.13 Indien enige informasie, sosiale kommunikasie, plasing of enige forum van sosiale netwerke enige van die personeel ongemaklik of bedreig laat voel, moet dit onmiddellik aangemeld word.
3.14 Moenie ʼn skakel of link na ‘n webtuiste, video of dokument aanstuur sonder om dit noukeurig na te gaan en seker te maak van die inhoud daarvan nie.
3.15 Neem deeglik kennis van sekuriteitswaarskuwings wat verskyn wanneer daar op skakels geklik word.
3.16 Boodskappe wat deur sinspeling die skool, leerders of personeel in ʼn slegte lig stel is nie aanvaarbaar nie.
4. Wanneer iets skeefloop:
4.1 Stel enige fout so vinnig as moontlik reg en dui aan wat u gedoen het om die fout reg te stel.
4.2 Vra onmiddellik om verskoning vir verkeerde of foutiewe plasings.
4.3 Indien ʼn fout begaan is – stel asseblief die skoolbestuur dadelik in kennis sodat stappe van die skool se kant af geneem kan word om die konsekwensies te beperk.
5. Kuberboelies:
5.1 Die skool as entiteit duld nie boelies nie. Leerders wat hulle aan enige vorm van boelie skuldig maak sal volgens die skool se gedragskode hanteer word.
5.2 Geen e-posse, plasings en opmerkings op enige sosiale media wat ten koste van ander uitgestuur word, ander in ʼn slegte lig stel of die skool se naam of etos aantas, kan aanvaar word nie.
6. Gebruik van foto’s:
Alle partye behoort daarvan kennis te neem dat foto’s wat by algemene skoolfunksies, byeenkomste, wedstryde en ander skoolgeleenthede geneem word vir die skool se brosjures, advertensies, sosiale media of publikasies gebruik kan word.
Ons glo dat hierdie beleid as riglyn vir alle rolspelers wat in assosiasie met die skool by sosiale media betrokke is of betrokke kan raak. Ons het groot waardering vir elkeen se begrip, samewerking en ondersteuning.