top of page

MARLENE VERLAAT DIE ONDERWYS NA 41 JAAR OM DOKTORGRAAD TE VOLTOOI

EG Jansen verloor ‘n groot gees in die Afrikaanse departement...


Na ’n leeftyd in die onderwys besluit Marlene Flemming, Afrikaanse onderwyseres van Hoërskool Dr EG Jansen, om die rooipen vir eers opsy te skuif.


Die dinamiese departementshoof en taalguru gaan aan die einde van die kwartaal haar pos na 41 jaar in die onderwys verlaat om haarself op verdere studie toe te spits.


Sy is tans besig met haar PhD in Penologie aan die Universiteit van Suid-Afrika.


Marlene verduidelik dat die rigting behels onder meer die waarde van straf in sekondêre skole in Suid-Afrika.


“Dit is ‘n persoonlike doelwit om hierdie graad agter my naam te kry,” verduidelik Marlene, wat haar BA en meestersgraad aan die Universiteit van Potchefstroom verwerf het.


Sy erken dat dit moeilik is om kinders en werk te balanseer, maar die resultate is aan die einde van die dag als werd.


Marlene het in 1979 by Hoër Volkskool Potchefstroom haar loopbaan begin. Daarna het sy by Gekombineerde Skool Hendrina en Hoërskool Hugenote gaan skoolgee voordat sy by die Hoërskool Dr EG Jansen begin klas gee het.


Tydens haar loopbaan by EG Jansen is sy 10 uit die 12 jaar as die beste onderwyser in die distrik aangewys.


Sy beskou al die toekennings as ’n hoogtepunt in haar loopbaan, en sy sukkel om ‘n laagtepunt uit te wys.


Die innemende departementshoof vertel verder dat daar ‘n paar veranderinge plaasgevind het sedert sy haar loopbaan begin het.


“Ek beleef dat leerders nie meer so ernstig en toegewyd oor akademie is soos in die verlede nie. Hulle lees minder en is soms nie so ingestel op dinge wat om hulle aangaan nie,” sê Marlene.


Verder is sy ook passievol oor hokkie en lees. Sy geniet Deon Meyer se boeke en spog dat sy al sy boeke besit.


Sy besluit nog oor haar toekomsplanne, maar sy wil beslis eers by die see gaan ontspan na sy haar doktorsgraad verwerf het.


https://boksburgadvertiser.co.za/362705/marlene-verlaat-die-onderwys-na-41-jaar-om-doktorsgraad-te-voltooi/?fbclid=IwAR3pLHW_woqyVFqeozHcea0hmu0lp6GPNASzI4VG_eugzJ8sMKgXUpZpfKE


0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page