Geskryf deur Zanel Visser
Op 8 April vier ons die hoof se verjaarsdag! Maar wat het nou eintlik gebeur op hierdie feestelike Vrydag?
Die hele skool was in rep en roer vir dié dag Hy het soos ‘n ware breker op ‘n vreeslike fancy motorfiets, die naam ontgaan my nou… op die veld gearriveer, dit met ‘n luide applous.
Elke graad het behoorlik uitgehaal en hul eiesoortige talent gewys om so deel te kon wees van die vieringe! Ons meen nou te sê, nie almal word so vreeslik oud nie!
Elke graad het die heuglike okkasie afgeskop met die verskeie eras waarin die hoof geleef het – glo my, daar is heelwat – iets vanaf Noag tot nou en dit met treffers van toeka se tyd op die rugbyveld uitgebeeld.
Soos wafferse professionele dansers het die kinders stof opgeskop terwyl Meneer lekker op ‘n ‘memory lane’ trippie gegaan het. Aan sy breë glimlag kon mens sien hy geniet hom gate uit! Dit het ook so ‘n wippie in sy, uhm… hare gesit!
Die Jansieraad was op hul stukke en het die pas aangegee en met hul funky klere en bykomstighede. Die onderwysers was ook vol sports en het hulle deel gedoen vir die baas se groot dag! Praat van gees en die onnies het nie ‘n tree teruggestaan nie.
Bokke vir sports. Altyd reg om mee te doen.
Dit is geen geheim dat Meneer die aandag baie geniet het nie, sy wye glimlag en uitstootbors het gewys sy hart klop dankbaar Jansen.
Ons Jansen. Ons trots. Op vele meer, Meneer!
Comments