top of page
Untitled design (15)_edited.jpg

0p die tiende skooldag van 1955 het die hoof van Hoërskool Voortrekker in Boksburg aan die onderwysdepartement en aan die skoolraad van die Witwatersrand verklaar dat dié skool uit sy nate bars.​

Die onderwysdepartement het besluit 'n tweede hoërskool moet dadelik gestig word. 'n Sentrale terrein moes vir die nuwe skool gesoek word. 'n Afvaardiging van belanghebbendes moes 'n memorandum opstel, dit aan die skoolraad voorlê en die sekretaris van die skoolraad moes 'n geskikte terrein soek.

Klaskamers, laboratoriums, sentrums en kantore, ens. is tydelik in Comet opgerig. Die hoof van Hoërskool Voortrekker is aangesê om alle gr. 8- en 9-leerders (afkomstig van die laerskole Hennie Basson, Witfield en Concordia) in te lig om op Maandag, 2 Augustus 1955, by die nuwe hoërskool aan te meld. Mnr. S.P. van Wyk sou as waarnemende hoof optree. Elf personeellede en 209 leerders het opgedaag. Die poste van hoof, vise-hoof en 11 personeellede is in 'n vakaturelys van Oktober 1955 geadverteer. Op 22 Maart 1956 is mnr. G. Veldsman van Hoërskool Hugenote in Springs en mnr. B.J.J. van Rensburg van Hoërskool Monument in Krugersdorp, onderskeidelik as hoof en adjunkhoof aangestel. Op 10 April 1956 open die skool vir die tweede kwartaal met 14 personeellede en 319 leerders.

Die skool is voorlopig die Tweede Afrikaansmediumhoërskool vir Boksburg genoem en voorlopige planne is ontvang vir 'n permanente gebou op 'n terrein wat aan die Laerskool Concordia grens.

Die beheerraad het op 'n vergadering in September 1956 besluit om 'n kompetisie te loots om 'n naam vir die nuwe skool te kry. Die wenner sou tien pond kry. In Oktober 1958 is met 'n oorweldigende meerderheid besluit om die eerste Afrikaanssprekende goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, dr. Ernst George Jansen, te vernoem. Die wenner was mnr. A.J. Bezuidenhout en hy het sy prysgeld aan die skoolfonds teruggeskenk. Dr. en mev. Jansen was baie trots en het die skool se leuse, "Ons sal handhaaf", voorgestel. Die eerste sooi van die huidige skoolterrein is op 27 Augustus 1958 gespit en die hoeksteen is op 24 November 1958 deur dr. E.G. Jansen gelê.

Die voltooide gebou is op 6 November 1959 betrek. Die inwyding van Hoërskool. Dr. E.G. Jansen is op 19 Maart 1960 deur adv. B.J. Vorster, destydse adjunkminister van onderwys, waargeneem. Die eerste hoofdogter was Zelda Spruyt en die eerste hoofseun, P.G. Geldenhuys.​

Hoofde:
1955 tot 1956: Mnr. S.P. van Wyk
1956 tot 1971: Mnr. G. Veldsman
1971 tot 1979: Mnr. J.G. van Zyl
1980 tot 1992: Mnr. P.J. Conradie
1993 tot 2010: Mnr. J. S. Maré
2011 tot op hede Mnr. L. de Beer

GESKIEDENIS

Arend Jansen (3).png
Só het die Hoërskool Dr. E.G. Jansen begin
bottom of page